Legislation

Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting

  1. Inleiding
    Artikel 32 van die Grondwet waarborg aan elkeen die reg van toegang tot inligting wat deur die staat en ander persone of instellings gehou word. Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2 van 2000 (‘PAIA’) voorsien die raamwerk en prosedures vir die uitoefening van die grondwetlike reg tot inligting. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (‘SAMRK’) speel ’n sleutelrol  in die implementering van PAIA. Alle  pertinente inligting oor PAIA, insluitende toegang tot PAIA self en regulasies wat onder dié wet uitgevaardig is, is beskikbaar op die SAHRC-webwerf.

    Die Universiteit van Suid-Afrika verbind homself ten volle tot die implementering van PAIA op ’n positiewe en proaktiewe wyse ten einde te verseker dat inligting onder sy beheer, beskikbaar en toeganklik is, en om dus uitvoering te gee na die letter en die gees van die   fundamentele reg van toegang tot inligting en van die grondwetlike beginsels wat openbare administrasie beheer.  

    PAIA is van toepassing op alle opgeneemde inligting wat onder die Universiteit se beheer is, en indien dit behoorlik toegepas word, sal dit dus deursigtigheid, aanspreeklikheid en doeltreffende beheer by die Universiteit bevorder. Dit spreek vanself dat ’n instelling soos Unisa ’n groot en diverse aantal rekords het, waarvan sommige openlik beskikbaar is en ander nie. PAIA bevat ’n  uitvoerige stel bepalinge wat die omstandighede waaronder toegang tot Universiteitsrekords wat nie openlik beskikbaar is nie, geweier moet word en mag word.

    Unisa het boonop reeds prosedures in plek om toegang tot baie van sy rekords te gee.  Aangesien PAIA ten doel het om toegang te versterk en nie om dit kragteloos te maak nie, werk die bestuur van die Universiteit tans aan prosedures om te verseker dat die toepassing van PAIA in sy doel sal slaag.
  2. Inligtingsbeampte

    Ingevolge PAIA is die Rektor die Inligtingsbeampte van die Universiteit. Om PAIA optimaal ten uitvoer te bring, kan die Inligtingsbeampte Adjunkinligtingsbeamptes in die Universiteit aanwys. Dit sal ter gelegener tyd gedoen word.  

  3. Handleiding

    Die Universiteit se eie PAIA-handleiding is beskikbaar op die Universiteit se webwerf, by Unisa PAIA Manual.

  4. Versoek om inligting

    Enige versoek om toegang tot rekords wat deur die Universiteit gehou word, moet via die voorgeskrewe vorm geskied. Die vorm is verkrygbaar by die kantoor van die Universiteit se Regsadviseur (Kamer 11-12, OR Tambo-gebou, tel (012) 429-6855 of (012) 429-6904 of (012) 429-2235; of by Vorm A peachjv@unisa.ac.za of peijpejad@unisa.ac.za of nkamatdr@unisa.ac.za).

  5. Gelde

    Gelde is betaalbaar wanneer toegang tot inligting versoek word – Vorm C. ’n Aanvraagfooi is ’n minimum fooi wat betaalbaar is vir die indiening van ’n aansoek.  Dié  bedrag is tans R35,00 (vyf-en-dertig rand) per aansoek en is nie terugbetaalbaar nie.  Aanvraagfooie is betaalbaar met indiening van die aanvraagvorm. ’n Addisionele deposito kan in sekere gevalle gehef word, na gelang van die aard (volume) van die inligting wat aangevra is, sowel as die formaat waarin dit aangevra is. Toegangsfooie  is betaalbaar wanneer ’n versoek om toegang tot ’n rekord ingedien word, behalwe in die geval van ’n rekord wat persoonlike inligting van die versoeker bevat. Neem asseblief kennis dat indien dit enigsins moontlik is, ’n kwotasie vir die toegangsfooie eers aan die versoeker gegee sal word.

    Die betaling van gelde kan soos volg geskied:
    Betaling/bankbesonderhede: www.unisa.ac.za/paymentinfo
  6. Proses

    Die aansoekvorm moet volledig ingevul word volgens die instruksies wat daarop verskyn, en moet vergesel word van betaling of bewys van betaling van die voorgeskrewe fooie betaalbaar. Aansoekvorms kan ingedien word by die Kantoor van die Regsadviseur, of per faks gestuur word na  (012) 429-8902, of per pos na:
    Die Inligtingsbeampte p.a. Die Regsadviseur, OR Tambo-gebou 12-17, Posbus 392 0003 Unisa.

    Wanneer ’n aansoek ontvang word, sal die Inligtingsbeampte die versoek hanteer volgens die bepalings van PAIA. Die versoeker sal binne 30 (dertig) dae vandat die versoek ontvang is, verwittig word of die versoek toegestaan is of nie. Indien ’n versoeker ontevrede is met die uitkoms (dat ’n versoek nie toegestaan is nie), kan die versoeker binne 60 dae vanaf verwittiging dat die versoek nie toegestaan is nie, ’n  interne appèl indien. Appèl moet skriftelik aangeteken word, op ’n voorgeskrewe vorm wat beskikbaar is – sien Vorm B, wat ook verkry kan word van die Inligtingsbeampte, wat sal toesien dat dit volgens PAIA hanteer word, en die aansoeker sal verwittig van die uitkoms.

    Enige navrae of klagtes kan gerig word aan die kantoor van die Universiteit se Regsadviseur ((Kamer 11-12, OR Tambo-gebou, tel (012) 429-6855 of (012) 429-6904 of (012) 429-2235; of op Vorm A – peachjv@unisa.ac.za of peijpejad@unisa.ac.za of nkamatdr@unisa.ac.za).

Last modified: Mon Aug 07 16:42:05 SAST 2023